|
Klein-Karoo-blommeprag |
|
|
|
Thursday, 10 August 2006 |
Die eerste van ‘n reeks bewusmakings-advertensies wat in die Herrie geplaas word. Hierdie berig het aan die begin van Augustus 2006 verskyn. (10 Augustus)
Vyf en twintig jaar gelede in Januarie 1981 was die Laingsburg-vloed. Saam met die vloedwater en goeie reëns destyds was die Klein–Karoo veld ‘n lushof.
Vanjaar met die goeie winterreёn en uitstekende opvolg-reën van die afgelope paar weke, lyk die Klein-Karoo-veld selfs mooier as ‘n kwarteeu gelede.
Maak dus sommer hierdie week nog ‘n plan om ‘n draai te gaan stap in die veld; of ry ‘n entjie al langs die Swartberge.
In die verbyry of tydens uitstappies in die veld wonder ‘n mens dikwels wat al die mooi blomme se name is. Ons by CapeNature en die Gouritz Inisiatief (GI) het juis hierom besluit om gereeld elke tweede week in die HERRIE ‘n bietjie meer te vertel en te wys van die mooi goed wat juis op die oomblik in die veld blom.
Lekker loopplekke in ons kontrei waar die blomme nou regtig pragtig is, is : Grootkop en Hospitaalkoppie buite Oudtshoorn, De Rust-koppie vlak by Blomnek buite De Rust, en die meentgrond in Calitzdorp sowel as Ladismith.
Onthou! Sit op jou hurke en bekyk die lappie grond om jou noukeurig – jy sal verstom wees om te sien hoeveel verskillende plantsoorte daar net op so ‘n vierkante meter om jou groei.
Dit sal vir ons lekker wees as julle vir ons terugvoer gee oor al jul interessante veldervarings. Selfs as julle wonder oor die name, kan julle ook foto’s van die plante en kommentaar vir ons deurstuur na die GI-webbladsy: www.gouritz.com Ons sal graag terugvoer gee.
Hierdie artikel het op 10 Augustus 2006 in die Herrie verskyn.
Kyk of jy een van hierdie verrassings in die veld raakloop. | |  Weeskindertjies (Nemesia fruticans) Van die Leeubekkie-familie. Kan jy sien hoekom? | |  Bokhorinkie (Diascia bicolor) Kyk op die agterkant van die blommetjie of jy die twee horinkies kan raaksien. | | | | | |  Traanblommetjie (Lyperia triste) Ruik lekker en word deur motte bestuif. | |  Tongblaarvygie (Glottiphyllum crusiatum) Dié spesie is baie skaars in die Klein-Karoo. | | |
|