|
‘n Bol van ‘n ander geur! |
|
|
|
Thursday, 24 August 2006 |
Die Klein-Karoo is nie net bekend vir sy ryke verskeidenheid vetplante nie, maar daar is ook ‘n groot diversiteit spesiale bolplantsoorte wat hier voorkom, byvoorbeeld: Freesias (kammetjies), Ixias, Hesperanthas (aandblommetjies), Tritonia en Gladiolus (swaardleliesoorte).
Het u geweet dat die Freesias die tweede grootste uitvoerproduk van Nederland is? Boonop genereer dit meer inkomste vir Nederland as wat die totale goudmyn industrie vir Suid-Afrika inbring. Die moederplant van die hele Freesia-bedryf kom uit die Klein-Karoo. Dié bolplantjies blom op die oomblik oral in die Klein-Karoo. Maak spesiaal moeite om ook daaraan te ruik. Die geur is hemels.
So gepraat van geur; die Lapeirousia pyrimidalis (Kabong) ruik ook lekker en word bestuif deur langtong-vlieё. (Kyk op die foto van die Lapeirousia spesiaal hoe lank die blombuis is en na die gekleurde vlekkies op die blomblare wat soos die merkers by ‘n vliegaanloopbaan, presies vir die vliegie wys waar hy moet land.)
Kan u glo Melasphaerula ramosa (feëklokkies – sien foto) behoort aan die Iris-familie? Die soort word gering geskat – miskien omdat mense dink dis ‘n gras – maar dit het baie potensiaal as ruikervuller in die blombedryf. (Mooier as gipskruid en boonop inheems!)
Om vir Babianas (Bobbejaantjies) in die veld te soek, is ‘n bietjie soos om vir paaseiers te soek! En ‘n groot lekkerte om een te ontdek – hier by ons in die Klein-Karoo vind ‘n mens bloues en perses. Bobbejane is veral lief vir die Babiana-bolletjies en grawe dit uit om te eet - vandaar die gewone noemnaam.
Hierdie artikel het op 24 Augustus 2006 in die Herrie verskyn | |  Feёklokkies (Melasphaerula ramosa). Het ‘n suur muskusgeur wat klein vlieë lok. | |  Bobbejaantjies (Babiana sp.) In ons streek is daar ten minste twee nuwe spesies van hierdie soort onlangs ontdek. Hierdie is een daarvan. | | | | | |  Kammetjies (Freesia speciosa). | |  Kabong (Lapeirousia pyrimidalis). | | |
|