Search this site

Archive

Who's Online

We have 1 guest online

Syndicate

 
 
Home
Linte en buise Print E-mail
Thursday, 07 September 2006
Linte en buiseKenmerkend van die Madeliefie-familie is ‘n hofie van blomme, dikwels wat bestaan uit lintblomme aan die buitekant en buisblomme in die middel van die blom. ‘n Goeie voorbeeld om na te kyk om dit beter te verstaan, is ‘n sonneblom – die geel blare is die lintblomme en die swart aan die binnekant is buisblomme. Die Madeliefies is een van die grootste plantfamilies in die wêreld. Om die verskillende groepe binne die Madeliefies te onderskei, is nie altyd maklik nie. Die aan– of afwesigheid van lintblomme en die rangskikking van die skutblare aan die onderkant van die blomhofie en die saadstruktuur help met die uitkenning.

Madeliefies is nie net mooi nie, maar ook lekker kos vir diere in die veld. Weidingskundiges gebruik ‘n ster-indeks om die vreetbaarheid aan te dui. ‘n 5-ster- plantjie is byvoorbeeld baie smaaklik en produktief, terwyl 1-ster uiters onsmaaklik is.

Hierdie artikel het op 7 September 2006 in die Herrie verskyn
 
Tripteris sinuata (Geelbietou/ Karoo-bietou) is ‘n voorbeeld van ‘n 5-ster plant en kom baie wyd verspreid voor. Dié Madeliefie-soort word uitgeken aan die inkepings op die groen blare.
 
Gazania krebsiana (Botterblom) is baie smaaklik en ‘n 3-ster plant en proe regtig soos botter. Selfs al het die plantjie melksap is dit nogtans baie smaaklik. Dis ook ‘n gewilde tuinplant.
 
 
 
Berkheya cuneata (Flenniebos/ Vaalbietou) is endemies aan die Klein-Karoo (kom net hier by ons voor!) en is ‘n 3-ster plant. Die soort is maklik uitkenbaar danksy die opvallend stekelrige skutblare. Ook uniek aan die soort is dat die klein saailinge uit die droë stekelrige saadkoppie ontwikkel – so maak die plantjie seker dat sy `babas’ beskerm bly.
 
Hirpicium alienatum (Haarbossie) is maklik uitkenbaar aan die sagte haartjies rondom die blomkoppie. Daar is ten minste drie soorte haarbossies bekend in die Klein-Karoo en een het nog nie ‘n naam nie! Dis ‘n 4-ster plant en dus baie smaaklik.
 
 
 
Chrysocoma ciliata (Bitterbos) is ‘n 1-ster plant, dus onsmaaklik en duidelik sonder lintblomme.
     
 
< Prev   Next >