|
Saturday, 21 October 2006 |
Aalwyne is ‘n uitstaande kenmerk van die Klein–Karoo landskap.
Die vetplantagtige blare wat in rosette gerangskik is en die kandelaar-bloeiwyse is die twee mees opvallende kenmerke van aalwyne. Daarom is aalwyne eintlik maklik om uit te ken.
Die bitteraalwyn (Aloe ferox) is een van die bekendste aalwynsoorte in ons streek. Dis juis die sap van hierdie aalwyn wat gebruik word as medisinale produk bekend as ‘Cape Aloes.’ Dis ‘n purgeermiddel wat gebruik word vir maagongesteldheid. Die jel in die blare is ook gewild as produk in skoonheidsmiddels soos byvoorbeeld haarsjampoe, gesigrome, son-blokkeermiddels en selfs tandepaste. Die bekende ‘Timjan’- produk word van aalwynsap gemaak – die spreekwoord lui mos hoeka: Bitter in die mond, maak gesond!
‘n Ander bekende aalwyn in ons streek is Aloe microstigma (Spikkelblaar-aalwyn) ‘Microstigma’ verwys na die baie klein kolletjies op die blare. Jangroentjies en suikerbekkies is die bestuiwers.
Aloe variegata (Kanniedood) is een van die eerste aalwynsoorte wat suksesvol in Europa gekweek is. In die volksmond staan die plantjie bekend as `kanniedood’ - danksy die gebruik om die plantjies op grafte te plant as toonbeeld van ewige lewe. Die wetenskaplike naam ‘variegata’ verwys na die bont blare.
In dieselfde familie as aalwyne is daar ‘n groep bekend as Haworthia en lyk soos miniatuur aalwyntjies. Die mees opvallende kenmerke van hierdie groep is die vaal wit blomme en die fyn voorkoms van die plante. Haworthias groei in die skaduwee van groter plante en is daarom minder opvallend.
Haworthias is beskermde plante en mag nie beskadig of uit hul natuurlike habitat verwyder word nie.
Hierdie berig het verskyn in die Herrie van 19 Oktober 2006
Oorspronklike artikel
| |  Aloe ferox (Bitteraalwyn)Op die foto wys waar die blare verwyder is van die plant en hoe die blare in ‘n kring gestapel is tydens die aalwyntap-proses. | |  Aloe microstigma (Spikkelblaar-aalwyn) | | | | | |  Aloe variegata (Kanniedood) | |  Haworthia arachnoidea (spinnekop mini-aalwyn) Die wit stekels op die blare herinner aan ‘n harige spinnekop en groei dikwels in rotsskeure. | | |