|
Vygies - mooiste veldsterre |
|
|
|
Thursday, 02 November 2006 |
In die Klein-Karoo kan ‘n mens aan die sterre vat. En dis nie wensdenkery nie. Die vygie-sterre wat oral padlangs groei, is op die oomblik ‘n kleurryke skouspel – wat selfs die sterre in die blink melkweg sal uitstof.
Die vygies behoort tot die groot vetplant-familie – Mesembryanthemaceae. Die vygies het meestal twee teenoorstaande vlesige blare en kenmerkend is die klomp gesnipperde blomblare wat in ‘n roset gerangskik is. Daar is ‘n groot aantal meeldrade in die middel van die blom.
Die vrugte bestaan uit vyf tot tien vrughokkies en die verskillende groepe van die vygies word dikwels uitgeken aan die struktuur van die vrug.
Vygies kom hoofsaaklik in die suidwestelike dele van Afrika voor vanaf Angola tot in die Kaap en verder ooswaarts tot in Zimbabwe en selfs in Botswana.
Vygies het geweldig baie gebruike – mees bekende is natuurlik hul waarde as tuinplante. Deur die eeue is dit ook gebruik om konfyte van te kook; bv Ghoenavy. Die einste Ghoenavy het ook ‘n medisinale waarde as gorrelmiddel vir seer keel en is wondermiddel teen bloublasie-brande. Kougoed (Kanna) word gebruik as anti-depressant en as natuurlike middel het dit geen newe-effekte nie. Asbos is ook gebruik om seep van te kook. Selfs bier is tradisioneel gemaak van vygies – bekend as moerwortelvygie!
Skilpaaie is veral lief vir sappige vygies as kossoort.
Oorspronklike artikel
| |  ‘n Pragtige pers kransie van doublaarvygie (Drosanthemum hispidum) wat as tuinplant uitstaan. | |  Ghoenavye (Carpobrotus mellei) kan pienk, pers, geel of wit wees en is uitstekende medisinale plante. | | | | | |  Die Kanna van Kannaland (Sceletium tortuosum) – ook bekend as kougoed - omdat mense dit in die verlede gekou het wanneer hul op lang togte moes gaan. | |  Asbos (Psilocaulon junceum)is tradisioneel gebruik om kookskerms van te bou en ongediertes uit te hou. | | | | | |  Moerwortelvygie (Trichodiadema burgeri) | |  Oulap se rooi maak mooi – ook ‘n doublaarvygie (Drosanthemum speciosum) | | |