Search this site

Archive

Who's Online

We have 7 guests online

Syndicate

 
 
Home
Hou hulle dop! Print E-mail
Wednesday, 24 May 2006
Pasop vir toe oë deur die Klein-Karoo ry.

Nie net mis jy die mooiste natuurskoon op-pad nie; maar jy kan dalk vir Oom Dopman en sy maats per ongeluk doodry.
Net om seker te maak motoriste vergeet nie van ons dopman-vriende - die skilpaaie in die Klein-Karoo nie, is daar die afgelope paar weke spesiale padpredikante oral in die Klein-Karoo op strategiese plekke padlangs opgerig.

Skilpad Danksy die mense wat omgee by CapeNature se Swartberg-kantoor in Oudtshoorn, dr AnneLise Schutte Vlok (streeksekoloog), Charles Adams (Bewaringsdiensbeampte) en Jan Vlok (van die Gouritz Inisiatief) is daar uiteindelik plan gemaak om te help verseker dat die spesiale skilpad-bevolking van die Klein-Karoo nie sommer sonder vooraf waarskuwing onder die motorbande sal beland nie.

``Ek het per ongeluk self eendag ‘n skilpad raakgery. Ek was so ontsteld en het gehoop ek sou hom nog kon red. Maar sy dop was ongelukkig so stukkend dat die longe gewys het en die veearts moes hom uitsit,’’ vertel dr Vlok.

``Die arme skilpaaie wat so in ons omgewing doodgery word, was iets wat my nog altyd gepla het en ek het gewonder of ons nie in samewerking met Paaidepartement ‘n plan kan maak nie,’’ sê sy.

Charles Adams het begin uitvind oor die moontlikheid om waarskuwingsborde op strategiese plekke in die Klein-Karoo op te rig. ``Van die boere tussen Meiringspoort en Beaufort-Wes in die laat jare 90 het al hul bekommernis oor die slagting van skilpaaie uitgespreek. Hulle wou toe reeds waarskuwingsborde oprig, maar kon nie die nodige ondersteuning van owerheidskant kry nie, ‘’ vertel Charles. Hy het egter nie moed opgegee nie en weer begin skryf aan ‘n motivering vir waarskuwingsborde.

Danksy die goeie samewerking van mnr Stewart Bain, assistent-distriks- paaie-ingenieur in die Oudtshoorn-kantoor is daar spesiaal sulke skilpad-padpredikant-borde laat maak.

Met behulp van CapeNature se skilpadreddingspan is uiteindelik 12 bordjies opgerig op die Meiringspoort-Beaufort-Wes-pad, die Calitzdorp-Oudtshoorn-pad, tussen Oudtshoorn en George asook op-pad van Oudtshoorn af Mosselbaai toe.

Volgens Dr Ernst Baard, bestuurder van die wetenskaplike eenheid van CapeNature op Jonkershoek en bekende herpetoloog, kom daar hoofsaaklik drie spesiale soort skilpaaie in die Klein-Karoo voor; die Rooipensie, die Knoppiesdopskilpad en die Bergskilpad.

``Hulle is almal beskermde diere en elke skilpad wat doodgery word op die pad, is ‘n belangrike bydraer in ‘n ekosisiteem wat verwyder word. En al word skilpaaie baie oud, is hul aanwas laag en hul oorlewing as jong diere nie goed nie. Dit maak skilpadbevolkings spesiaal kwesbaar,’’ verduidelik dr Baard.

Volgens dr Baard is skilpaaie veral aktief in die warmer seisoene en is dit ook nie ‘n `ouvroustorie’ dat skilpaaie begin rondloop voor dit begin reën nie.

Hou dus dop en ry versigtig waar die skipadoorgange is. En moenie dink jy kan sommer `wydsbeen’ bo-oor ‘n skilpad ry en dink jy gaan hom nie seermaak nie. Baie van die moderne motors is so laag dat hulle juis die dop beskadig en dan is oorlewing van ou Skillie bitter skraal.
 
Next >