|
|
Home GI Projects Biodiversity and the Ostrich Industry Projekverslag Januarie - Februarie 2009: Volstruisbedryf Biodiversiteitsbestuur |
|
Projekverslag Januarie - Februarie 2009: Volstruisbedryf Biodiversiteitsbestuur |
|
|
|
Wednesday, 18 March 2009 |
|
Beste PBS lede en ander rolspelers
Hiermee Januarie en Februarie 2009 se projekverslag:
- Algemeen: Na ‘n kort rusperiode tussen Kersfees en Nuwejaar (dit voel al soos jarrrrrre gelede….!) is ons weer volstoom aan die gang. Ons probeer om die beste te maak van die geen-koste verlenging wat aan die projek toegestaan is, en ons glo dat ons ons doelwitte sal bereik voor einde September 2009.
- Rehabilitasie: Ken Coetzee en Wallie Stroebel van Conservation Management Services (CMS) is reeds sedert vroeg Februarie besig met rehabilitasiewerk by die 4 areas wat verlede jaar geïdentifiseer is. Drie van die areas lê op die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en die vierde area is by Volmoed-omgewing. CapeNature en die SAVBK het saamgespan om inligtingsborde aan te bring by hierdie areas – baie dankie aan hulle vir hierdie ongelooflike vennootskap! Twee areas is reeds voorberei vir restourasie, wat deur prof Sue Milton en haar span gedoen gaan word. Wallie en sy span het gate gegrawe, ge”mulch”, ge”rip” en nog ‘n klomp ander tegnieke ingespan wat getoets gaan word oor die volgende paar jaar – terugvoer sal aan die boere gegee word oor die sukses van die verskillende metodes. Baie dankie ook aan die boere op wie se plase hierdie navorsing gedoen gaan word! (Ons is steeds besig om te soek na befondsing om hierdie werk af te handel – as enigeen weet van moontlike befondsers, laat weet ons asseblief!)
- Restourasie: Prof Sue Milton werk saam met CMS op 2 van die rehabilitasie-areas. Sy gaan oor die volgende drie jaar 3 studente "loslaat" op hierdie areas – die studente gaan dan ‘n verskeidenheid van aktiwiteite uitvoer op die areas, maar hoofsaaklik monitering doen. Terugvoer sal deurlopend aan die bedryf gegee word.
- Plaasvlak Biodiversiteit Planne: Ken Coetzee het elk van die deelnemende boere persoonlik besoek om die planne wat verlede jaar oorhandig is, te pasmaak. Uit sy besoek sal ‘n Aksieplan vir elke boer geskryf word wat hom sal help om bio-diversiteitbestuur te begin implementeer as ‘n bestuurs-verpligting.
- GBP (Gebiedsbeplanning): Twee GBP vergaderings is gehou, waartydens CapeNature en LandCare hulle laagland korridors geïdentifiseer het. Gesamentlike beplanning op plaasvlak deur hierdie 2 vennote word in die vooruitsig gestel om (1) voogdyskap-prosesse aan die gang te sit, (2) plaasvlak-bestuursplanne te ontwikkel, en (3) sosio-ekonomiese behoeftes op plaasvlak te identifiseer.
- Media: Daar was 2 radio-onderhoude op rsg – ‘n kortetjie oor die aanbring van die rehabilitasieborde op die R62, en ‘n langer een oor die Volstruisbedryfstandaard dokument, met spesifieke verwysing na die bio-diversiteitskomponent. Daar het ook in die plaaslike koerante iets verskyn oor die rehabilitasie- en restourasiewerk wat beplan word, sowel as die borde wat aangebring is langs die R62. Hierdie mediablootstelling geskied volgens ons kommunikasiestrategie om te sorg dat die korrekte inligting op die regte tyd en in die regte media geplaas word om sodoende positiewe persepsies oor die volstruisbedryf se erns met bio-diversiteitsbestuur oor te dra.
- Klimaatsveranderingberaad: Ek het ‘n 3-dag beraad bygewoon wat deur die Eden Distriksmunisipaliteit aangebied is. Dit het my net weer onder die indruk gebring dat elke sektor, ook die landbousektor (spesifiek die volstruisbedryf) hom maar moet regtrek vir veranderings wat gaan kom. Die bedryf kan kan baie doen i.t.v. aanpassing, terwyl risiko-hantering (en vermyding) moontlik op ‘n ander vlak hanteer kan word.
- Bio-diversiteit Werkgroep vergadering: . Die eerste bio-werkgsgroep vergadering is gehou net voor die eerste PBS vergadering. Mike Murray het ‘n gebruikersvriendelike dokument bekendgestel wat boere in staat sal stel om veranderinge wat hulle in hul bestuurspraktyke maak as gevolg van die bio-diversiteits bestuursplan, te kan kwantifiseer. Hierdie dokument, sowel as die dokumente wat die projek tot dusver opgelewer het, sal binnekort op CD aan elke deelnemende boer gegee word. (As u ook ‘n kopie daarvan wil hê, kontak gerus vir Yvette.)
- Projek Bestuursplan Vergadering: Hierdie vergadering het dit ondersteun dat ons projek “omskakel” na ‘n Bio-diversiteits Eenheid (BE) vir die Volstruisbedryf, en dat volhoubare befondsing daarvoor gesoek moet word. Die Langtermyn Bio-diversiteitsbestuur Strategie vir die Klein Karoo dokument sal einde Maart voltooi wees en aan voornemende befondsers aangebied kan word. Die vergadering het dit ook ondersteun dat so ‘n BE ook ‘n funksie moet vervul wat voldoening (“compliance”) betref. ‘n Proses wat ons gaan loods, sal oor die volgende paar maande getoets word – kortliks kom dit daarop neer dat boere (wat reeds deur die Nasionale Departement van Landbou geïdentifiseer is) wat nie aan die drakragnorme voldoen nie, deur ‘n bio-diversiteit-span besoek sal word. Ons sal dan saam met die boer tot ‘n vergelyk kom oor hoe hierdie oorskryding van drakrag aangespreek sal word en vordering sal voortdurend gemonitor word. Departement Landbou : Nasionaal sal deurentyd op hoogte gehou word, en sal oorneem met wetlike prosesse indien die bio-span en die boer nie tot ‘n vergelyk kan kom nie.
- Bakkie-boekie: Die “Volstruis Bakkie Boekie” word binnekort herdruk en die SAVBK het aangebied dat ‘n paar bladsye aan bio-diversiteit afgestaan kan word. Ek is druk besig om te kyk watter inligting sinvol sal wees vir so ‘n boekie, en ek hoop dat u dit sal lees wanneer die boekie herdruk word!
- Subsidies vir die oprig van kleinkampies: Ons is nou in ‘n posisie om ‘n 20% subsidie aan te bied aan ‘n paar boere wat van tropparing wil oorskakel na die kleinkampiesisteem. (Ons het nie baie fondse daarvoor nie, dus sal net ‘n beperkte aantal boere gehelp kan word.) Hierdie subsidie is vir die fisiese oprigting van die kampies, en ons kantoor sal boere ook help met die DEA&DP aansoekproses (wat nogal ‘n onvriendelike proses is…). Aansoekvorms is reeds aan Agri Klein-Karoo gegee vir verspreiding – ons glo dat dit reeds by almal uitgekom het.
- Agri KK Expo: Ons het einde Feb 09, saam met CapeNature, aan die Agri Klein-Karoo Expo deelgeneem deur ‘n stalletjie te beman en ook die eerste bokdrolkompetisie by die Expo aan te bied. Die deelnemers moes by ons stalletjie ‘n “bewusmakings”-vraelys invul en dit was weer eens interessant om te sien dat sommige deelnemers darem ‘n paar van die antwoorde van die vorige jaar kan onthou! Baie dankie aan Agri Klein-Karoo wat via die Gouritz Inisiatief en CapeNature ook onthou dat bio-diversiteit op die radarskerm van landbou moet bly!
- DEA&DP besoeke: Ons het verlede jaar vertel van die 2 DEA&DP aansoeke wat deur ons kantoor geloods word. Ons neem die werk van ‘n konsultant oor om te kyk of ons die aansoekproses kan versnel. Middel Februarie het ‘n klompie verteenwoordigers (soos die publieke deelnameproses vereis) die 2 areas besoek en ons sal binnekort ‘n saamgevatte verslag na DEA&DP kan stuur met aanbevelings. Ons het reeds veel geleer uit hierdie proses (hoofsaaklik wat om NIE te doen nie!) – wees dus asseblief geduldig terwyl ons probeer om al die slaggate uit die weg te ruim – dit behoort vorentoe beter (en vinniger!) te gaan indien hierdie eerste pogings goed deurdink en bepraat word.
- LandCare besoek. ‘n Besoek van Departement Landbou se LandCare afdeling het ons oë oopgemaak vir die waarde van vennootskappe. Die aanvanklike doel met die besoek was om LandCare te versoek om subsidies te gee aan boere wat bedreidge veld wil restoureer, maar teen die einde van die besoek is daar tot ‘n vergelyk gekom dat fondse gereeld onvolhoubaar in subsidies gestoot word – daar moet eerder gekyk word na voorligting en dat boere wat uit eie oortuiging volhoubare grondbenutting toepas, beloon moet word met ‘n ander vlak van subsidiëring. Daar is ook ‘n uitgebreide gesprek gevoer rondom die voortsetting van hierdie projek en ons het weer eens tot die besef gekom dat die bedryf werklik moet inkoop in bio-diversiteitsbestuur. Ons sal volgende maand ons strategie oor volhoubare befondsing effens wysig om ook die bedryf die geleentheid te gee om ons te ondersteun in die diens wat ons lewer.
- Volgende maand: Ons grootste bekommernis is steeds befondsing – nie net vir die rehabilitasieprojek nie, maar ook vir die voortsetting vir wat ons doen en na die bedryf bring. ‘n Groot deel van my tyd sal afgestaan word om die Langtermyn Bio-diversiteitbestuur Strategie vir die Volstruisbedryf in die Klein-Karoo te finaliseer en om befondsers te nader om te verseker dat ons funksies in en deur die bedryf opgeneem word. Yvette sal haar grootliks besig hou met die DEA&DP aansoeke, en ons gaan ook begin met die “compliance” besoeke. Dit het tyd geword dat ons moet bewys dat die bedryf ernstig is om veranderings op grondvlak teweeg te bring en dat verbeterde veldbestuur ‘n werklikheid kan word.
- Algemeen: Hierdie verslag word ook op die GI webbladsy (www.gouritz.com) geplaas, sowel as op die SAVBK se intranet en toegangskodes is beskikbaar by Yvette (
This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it
of 044 272 2210).
U is (steeds!) baie welkom om my te kontak met enige vrae, voorstelle, kommentaar of kritiek. Ons poog steeds deurlopend om die projek deursigtig te hou tot voordeel van biodiversiteit en die bedryf. |
|
|