Search this site

Archive

Syndicate

 
Home arrow GI Projects arrow Biodiversity and the Ostrich Industry arrow Projekverslag Maart 2009: Volstruisbedryf Bio-diversiteitsbestuur
Projekverslag Maart 2009: Volstruisbedryf Bio-diversiteitsbestuur Print E-mail
Thursday, 23 April 2009


Hiermee April  2009 se projekverslag:

 

1.    Algemeen:  Teen die tyd dat u hierdie lees, is die Kunstefees steeds aan die gang òf pas verby.  Ek glo dat u hierdie kunste- en ekonomiese inspuiting positief ervaar het!  Ons het ons kontak met plaaslike mense bietjie afgeskaal, want die hooffokus van April gaan val op befondsing.  Meer daaroor bietjie later.
2.    Rehabilitasie en restourasie:  Ons rehabilitasieprojek is goed aan die gang – Ken en Wallie se werk is voltooi en dit lyk baie indrukwekkend!  Ek sit ‘n paar foto’s van die rehabilitasie aan hierdie verslag – goeie nuus was dat daar bietjie reën was (sien 2de foto) wat die water kon vashou as gevolg van die “hollows” wat gemaak is.  Ons is steeds aan die soek vir befondsing vir die die rehabilitasie-gedeelte; Eden Distriksmunisipaliteit het reeds R40 000 hiertoe bygedra en verskeie befondsingsaansoeke is ingestuur vir nog bydraes – hou asseblief duime vas dat ons iewers gaan regkom!   Sue en haar span is ook deurlopend besig met monitering, wat vir die volgende 3 jaar gedoen sal word.  Een van die boere het ingewillig dat die rehabilitasie-area op sy plaas as demonstrasieperseel kan dien – ons sal oor die volgende paar jaar dus moontlik ‘n keer of wat daar gaan besoek aflê en belangstellendes saamnooi.  Die doel van die rehabilitasieprojek is om die effektiwiteit van verskillende rehabilitasiemetodes te toets (vir elke toetsperseel is daar ook ‘n kontroleperseel) en die koste daarvan vas te stel.  Hierdie resultate sal dan oor tyd aan boere bekend gemaak word.  ‘n “Beste Praktyk” handleiding vir rehabilitasie word ook in die vooruitsig gestel.

Image
"Mulching"
ImageImageImage
3.    DEA&DP aansoeke:  Yvette het hierdie maand gaan kers opsteek by ‘n omgewingskonsultant net om onsself daarvan te vergewis dat ons nog op die regte spore loop met die 2 loods-aansoeke.  Yvette doen wonderlike werk hier, mens sou sweer sy’s al jarrrre met aansoeke besig!  Hierdie aansoeke is na Departement Omgewingsake toe:  een aansoek is vir die oprig van kleinkampies, en die ander aansoek is om ‘n klomp volstruise op ‘n enkelkamp aan te hou.  Beide aansoeke is vir versteuring van natuurlike veld en beide persele huisves bedreigde plantegroei.  Gelukkig (ongelukkig?  besluit self…) het ‘n onafhanklike konsultant aangedui dat die veld reeds versteur is en dat daar net spesies voorkom wat wydverspreid voorkom.  Ons sal u op hoogte hou van die vordering en ook die uitslag van die Departement.
4.    Bakkie-boekie:  Die inligting wat in die Biodiversiteit Hoofstuk van hierdie boekie gebruik gaan word, is na Departement Landbou deurgestuur, en volgens aanduidings is die herdruk van die boek goed op dreef.  Ons sal u ook laat weet wanneer die volgende uitgawe gereed is.
5.    Projek-ontwikkelings Forum (PDF):  Ek het ‘n tweedag projek-ontwikkelings forum in Kaapstad bygewoon – dit is opgevolg met ‘n daglange werksessie in Oudtshoorn.  Twee van die bewarings-inisiatiewe waarvan ons projek deel is, naamlik SKEP (wat bewarings-aksies in die Vetplant Karoo koördineer) en CAPE (wat bewarings-aksies in die fynbos koördineer), hou volgende maand ‘n “Conservation Marketplace”.  Die idee daaragter is dat hulle potensiële befondsers nooi om na projekte, wat almal belyn is met die SKEP-CAPE visie en missie, te kom kyk in die hoop dat sommige projekte hulle opgewonde sal maak en befonds kan word.  Ek gaan self na die “Marketplace” toe, aangesien dit ‘n geleentheid is om van aangesig tot aangesig met befondsers te gesels.  Ek het 4 projekte hiervoor ingedien (Vestiging van ‘n Bio-diversiteits Eenheid vir die Volstruisbedryf; Klimaatsverandering-Strategie vir die Volstruisbedryf; Haalbaarheid van BEE-gedrewe kleinkampies in die Volstruisbedryf en  Rehabilitasie van ou volstruiskampe).
6.    Langtermyn Bio-diversiteitbestuur Strategie:  ‘n Vergadering is gehou waartydens ons hierdie strategie gefinaliseer het.  Die finale dokument sal weer gesirkuleer word vir aanvaarding.  Hierdie dokument sal befondsings-aansoeke rugsteun.  Die strategie het 4 uitsette:  (1) verbeterde veldbestuur in die volstruisbedryf (wat dinge insluit soos rehabilitasie, voogdyskap, monitering, voldoening aan wetlike vereistes ens.) (2) koördinasie deur ‘n Bio-diversiteits Eenheid (wat administrasie, logistiek, ens insluit) (3) klimaatsverandering-mitigasie en –aanpassingstrategieë en (4) navorsing wat verbeterde veldbestuur en verbeterde produksie steun.  Indien u die strategie onder oë wil kry, kontak gerus vir Yvette, wat dit elektronies aan u sal stuur.
7.    GBP (Gebiedsbeplanning):  CapeNature en LandCare is steeds saam aan die beplan rondom die vestiging van twee laaglandkorridors.  Plaasbesoeke in hierdie verband begin volgende maand.  Ons sal u op hoogte hou van hulle vordering.
8.    Subsidies vir die oprig van kleinkampies:  Agri Klein-Karoo het gehelp om inligting rondom hierdie subsidie na hulle lede versprei, en ‘n aantal aansoeke is ontvang.  Ons sal volgende maand terugvoer gee hieroor.  (Dankie aan Piet Lodder wat die aansoekvorms uitgestuur het!)
9.    Voortsetting van die projek:  Die projek se befondsing loop September ten einde.  Ten spyte van versoeke van vennote (soos CapeNature en LandCare) aan die SAVBK om die operasionele kostes van ons kantore post-CEPF te dra, het die direksie besluit dat dit gegewe die huidige ekonomiese krisis en ander faktore nie gedoen kan word nie.  Die gevoel is egter dat ons funksie moet voortgaan, en dat ons self befondsing moet soek vir die voortsetting van die projek, die SAVBK sal ons bly ondersteun op dieselfde manier as wat daar tot dusver gedoen is.  ‘n Groot bekommernis is dat befondsers graag wil sien dat die bedryf inkoop in projekte deur die funksies in bestaande sisteme op te neem.  Vennote soos CapeNature en LandCare het reeds ingekoop en stoot heelwat geld en hulpbronne in ons projek.  Ek is druk aan die befondsingsaansoeke uitstuur – hou asseblief duime vas dat ons iewers sal regkom!  
10.    Volgende maand: Ek gaan die grootste gedeelte van volgende maand aan die voorbereiding van befondsings-aansoeke spandeer, en gaan ook die “Conservatoin Marketplace” besoek om met potensiële befondsers skouers te skuur. Yvette sal verder werk aan die DEA&DP aansoeke en die kleinkampie-aansoeke.  Ons gaan ook begin om met ‘n loodsprojek ten opsigte van “compliance” – ‘n aantal boere is reeds hieroor genader en ons sal meer inligting gee nadat ons met die prosesse begin het.
11.    Algemeen: Hierdie verslag word ook op die GI webbladsy (www.gouritz.com) geplaas, sowel as op die SAVBK se intranet en toegangskodes is beskikbaar by Yvette ( This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it of 044 272 2210).   

U is (steeds!) baie welkom om my te kontak met enige vrae, voorstelle, kommentaar of kritiek.  Ons poog steeds deurlopend om die projek deursigtig te hou tot voordeel van biodiversiteit en die bedryf.



SUSAN BOTHA
6 April 2009

 
< Prev   Next >