|
Hiermee April en Mei 2009 se projekverslag:
1. Algemeen: Ek gaan hierdie slag twee maande se werksaamhede in een verslag probeer saamvat – April was net te vol onderbrekings met al die vakansiedae! Die fokus hierdie 2 maande was weer eens befondsing – iets wat in die huidige ekonomiese klimaat nie so maklik is om te kry nie. 2. Rehabilitasie en restourasie: Ek wil darem weer terugvoer gee oor die rehabilitasiewerk wat gedoen is. (Prof) Sue (Milton) en haar span studente kom met gereelde tussenposes die areas besoek en moniteer, en Ken was ook al ‘n slag of wat op die persele. Sue is baie tevrede met hoe die aangeplante saad op die reën reageer het, en Ken het ‘n “fout” (deur die reën veroorsaak) met die “geotextiles” op een van die persele opgemerk. Baie dankie aan hom en CapeNature, wat (teen geen addisionele kostes nie!) hierdie fout gaan herstel – Ken kon reël dat CapeNature personeel hierdie herstelwerk doen as deel van hulle indiensopleiding. Hierdie projek is ook uitgestal by die “Conservation Marketplace” (meer daaroor in punt 3), en een van die groot befondsers by wie ons aangeklop het, besluit einde Mei oor moontlike befondsing vir die rehabilitasiewerk. Hopelik het ons in ons Junie-verslag goeie nuus – hou asseblief (steeds!) duimvas! Baie dankie ook aan die deelnemende boere wat hulle toegewydheid bewys deur ons kantore eers te kontak vir advies alvorens daar bestuursbesluite op hierdie persele geneem word. 3. “Conservation Marketplace”: Die CAPE en SKEP programme van SANBI het in innoverende eerste dag van hul jaarlikse tweedag-Konferensie (Cape Partner’s Conference) aangebied. Die tema van vanjaar se Konferensie was “Conservation Connections”, en die hele eerste dag is opgeneem deur ‘n “Conservation Marketplace”. Projekte wat belyn is met die CAPE en SKEP visie en missie, is genooi om hulle projekte uit te stal, en sowat 25 befondsers was teenwoordig om die projekte te kom bekyk. Daar was ook interessante paneelbesprekings en oorgenoeg tyd om te netwerk. Ek het 2 projekte daar uitgestal (“Die Vestiging van ‘n Bio-diverisiteitsEenheid vir die Volstruisbedryf” en “Rehab, Restore, Revive!”) en nog 4 is gelys in ‘n boek wat aan die befondsers beskikbaar gemaak is. Baie dankie aan Anton en die SAVBK wat plakkate en uitrol-banier gefinansier het. Ek kon op grond van hierdie geleentheid ‘n aantal Langtermyn Bio-diveristeitsbestuur Strategieë uitdeel en sal dit vroeg in Junie opvolg. 4. Langtermyn Bio-diversiteitsbestuur Strategie: Hierdie dokument is gefinaliseer en sal oor die volgende maand of wat aangebied word aan moontlike befondsers. Die onderliggende beginsel van hierdie dokument is om te kyk na verbeterde veldbestuur en verbeterde produksie, wat klimaatsverandering-strategieë, navorsing en ‘n geïntegreerde benadering ten opsige van bio-diversiteitsbestuur in die bedryf insluit. 5. DEA&DP aansoeke: Ons is steeds besig met die twee loods-aansoeke; ek glo dat ons binnekort antwoorde van DEA&DP sal kry. Ons sal julle op hoogte bly hou… 6. Voldoening/Nakoming (“Compliance”): Ons kantoor loods tans ‘n projek in hierdie verband. Departement Landbou (Nasionaal) het ‘n tyd gelede ‘n aantal plase aan ons uitgewys wat veldagteruitgang toon op satellietbeelde. Ons (saam met ons vennote CapeNature, LandCare en Departement Waterwese, waar nodig) is stelselmatig besig om hierdie grondeienaars te besoek en aanbevelings (in oorleg met die grondeienaar) te doen oor veldbestuurspraktyke en wetgewing. Ons toets tans ‘n sisteem waar ons hierdie aanbevelings na die grondeienaar stuur en ‘n afskrif daarvan na die NDL . Hierdie aanbevelings sluit monitering in. Met ons daaropvolgende besoeke gaan ons die NDL op hoogte hou van moniterings-uitslae, en slegs die grondeienaar(s) wat, ten spyte van ooreenkomste wat ons tydens ons besoeke aangaan, nie doen wat ooreengekom is nie, gaan aan NDL “oorgegee” word dat hulle die relevante wetlike aksie neem. Ons doel met hierdie projek is om grondeienaars bewus te maak van wetgewing (en ook waar hulle oortree) en om stelselmatig, in samewerking met die grondeienaar, “reg te maak”. Slegs as die samewerking van die boer ontbreek, sal die NDL optree. Ons beoog ook om hierdie funksie teen ‘n koste aan grondeienaars te lewer as deel van ons strategie vir die voortsetting van die BiodiversiteitsEenheid. Meer daaroor in punt 11 7. Subsidies vir die oprig van kleinkampies: Daar is 2 produsente wat uit hierdie subsidie voordeel sal trek. Ons is op die oomblik met hulle aan die onderhandel oor alle wetlike aspekte rondom die oprig van kleinkampies, en die PBS sal hierdie proses monitor en volg. 8. ProjekBestuurSpan (PBS) vergadering: ‘n PBS vergadering is in April gehou waartydens verskeie projekgerigte onderwerpe bespreek is. Ons is verseker daarvan dat hierdie span toegewyde mense steeds by die projek betrokke sal bly, sou ons befondsing kry vir die voortsetting daarvan. Baie dankie solank vir julle ondersteuning en lojaliteit! 9. Bio-werksgroep vergadering: Anita Wheeler kon by hierdie vergadering interessante terugvoer gee oor ‘n “Tax Incentives for Conservation” konferensie wat sy bygewoon het. Sy sal ‘n meer formele aanbieding hieroor doen by ons volgende PBS vergadering. Ek glo dat hierdie inligting mettertyd via Georganiseerde Landbou ook na grondeienaars deurgestuur sal word. 10. Kaarte: Ons is byna klaar met die druk en laminering van die A0-plaasvlak-kaarte wat ons deelnemende boere gaan kry. Ons glo dat dit in Junie, saam met die veranderings wat Ken gemaak het op die Bestuursplanne, aan die boere oorhandig sal word. 11. Voortsetting van die projek: Die Langtermyn Bio-diversiteitsbestuurstrategie is oor die afgelope 2 maande aan verskeie moontlike befondsers gestuur en gegee. Die meeste befondsers is meer geneë om aansoeke te oorweeg indien die bedryf sy “commitment” toon deur ook ‘n finansiële bydrae te maak tot die projek. Ons ondersoek ook maniere hoe hierdie Bio-diversiteitsEenheid (BE) self geld kan genereer – een manier sou wees om dienste aan die bedryf te lewer teen ‘n veel laer koste as wat ‘n konsultant sou vra. Ons is besig om kostestrukture uit te werk vir spesifieke aktiwiteite (bv aansoeke na DEA&DP, omgewingskonsultant-dienste ten opsigte van veldbenutting en –belading, ens) en sal dit teen einde Junie gefinaliseer hê. Dit sal eers aan die PBS voorgehou word vir kommentaar. 12. GI Forum: Daar is in April weer eens ‘n baie interessante GI Forum aangebied. Een koerantberig wat uit hierdie Forum voortgevloei het ( “Ernstige Ingryping Nodig in Karoo”), wat die aanbieding van dr Patrick O’Farrell (WNNR) saamgevat het, het kommentaar van volstruis-rolspelers tot gevolg gehad. Dr O’Farrell se aanbieding het gehandel oor veldagteruitgang in die Karoo. Hy glo dat inwoners ‘n kopskuif moet maak om sodoende die onoordeelkundige gebruik van water, erosie en die vernietiging van endemiese plante om te keer. Hierdie Forum bied werklik, elke 3 maande, stof tot nadenke en interessante feite aan elkeen wat dit bywoon. Skakel ons gerus as u meer inligting oor hierdie forum wil hê 13. Media: Buiten bogemelde berig was daar ook ‘n berig in die Burger en die plaaslike koerant oor Eden Distriksmunisipaliteit wat ‘n bedrag van R40 000 aan ons projek geskenk het. Hierdie skenking is ‘n direkte uitvloeisel van my deelname aan ‘n Klimaatsveranderings Beraad vroeër hierdie jaar – ek kon ‘n aansoek vir befondsing deurstuur wat veband gehou het met Eden se Klimaatsverandering-prioriteit. Hierdie geld is aangewend op ons rehabilitasieprojek. 14. GIS Opleiding: Ek het ‘n basiese (“Getting Started”) kursus in GIS gedoen en was vreeslik opgewonde oor wat hierdie program alles kan doen en hoe dit kan bydra tot sinvolle besluitnemeing en beplanning. Ek gaan probeer om vir Heidi en Yvette ook bekend te stel aan hierdie program – hopelik kan ons oor ‘n paar maande dit begin gebruik tot voordeel van die bedryf. Die program kan ook met siektemonitering in die volstruisbedryf gebruik word en Anton het dr. Adriaan Olivier genomineer om ‘n kursus in die gebruik van GIS vir siektebeheer by Tukkies by te woon. 15. Volgende maand: Ons beplan in Junie of Julie ‘n werkswinkel om sommer ‘n klomp dinge aan te spreek – ons gaan onder andere inligting probeer kry om ons projek te evalueer. Sodra die agenda gefinaliseer is sal ons dit uitstuur – ons gaan ‘n klompie spesifieke persone nooi, maar die werkswinkel sal oop wees vir enigeen; uiteraard sal ons soveel moontlik mense se deelname waardeer! 16. Algemeen: Hierdie verslag word ook op die GI webbladsy (www.gouritz.com) geplaas, sowel as op die SAVBK se intranet en toegangskodes is beskikbaar by Yvette (
This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it
of 044 272 2210).
U is (steeds!) baie welkom om my te kontak met enige vrae, voorstelle, kommentaar of kritiek. Ons poog steeds deurlopend om die projek deursigtig te hou tot voordeel van biodiversiteit en die bedryf.
SUSAN BOTHA 30 Mei 2009 |